Ek vertel verder oor die Smithfield-Skou

deur Hennie Prinsloo ~

(Hennie Prinsloo was one of Smithfield’s best-loved characters. This is another of his popular contributions to SmiffieNews in its printed format. Uit vergange se dae….Derde uitgawe)

Die Skou is gewoonlik deur ‘n “VIP” geopen, soos ‘n Minister, Administrateur, President van OVS Landbougenootskap of so iemand. Dan moes die president van die Landbougenootskap by die openingsfunksie die hoogwaardigheidsbekleërs en ander gaste welkom heet, asook die bedankings doen.

Terwyl ek president was het ‘n grappige insident plaasgevind wat ek graag met u wil deel. Ek het ‘n erge aanval van stembandontsteking opgedoen, soveel so, dat ek geen enkele word kon uitkry nie en die volgende oggend moes ek die verwelkomings ens. doen. My vise-prsident het nie kans gesien om die funksie waar te neem nie.

Vanuit die niets van nêrens daag my ou vriend, die legendariese Koos Meyer daar op! Ek fluister toe vir hom wat my probleem was, en dadelik sê hy: “Ou Pêtou – daar is NIKS! Ek bly vanaand oor, en more staan jy net langs my, en fluister in my oor, en ek sal met die ou volkie praat.”

Die hotel was tjok en blok vol en slaapplek ‘n probleem. Uiteindelik was die enigste slaapplek ‘n bad in die hotel se badkamer! Glo dit as u wil! Koos was so goed soos sy word!

Die volgende oggend was ons op die podium. Ek fluister in sy oor, en hy dra dit oor. Met die verwelkoming het dit nog goed gegaan, maar toe ek by die bedankings kom, vertel Koos vir die mense van die rugbywedstryd tussen die Amalakiete en die Israeliete! – daar in die woestyn. Van hoe Moses met sy stap daar aankom en onder die manne inklim, en vir die Isrealiete sê: “Stop julle nonsies, en kom, die Rooi See wag!” Die mense wou hulle breek vir Koos Meyer en ek bloedrooi van die verleentheid.

Al wat ek toe kon doen, was om die mikrofoon af te sit, en Koos se mond toe te druk!

Die skoudans was natuurlik diè glans geleentheid op die jaarkalener. Die dames in hulle fraaiste uitrustings getooi, en die manne in hulle aandpakke. Menige romanse het ook hul oorsprong by die skoudans gehad. Die skoudans-ete was gewoonlik uit ‘n ander wêreld! Boerekos en geregte soos net die Smithfield bewoners dit kon voorberei. Dit was ‘n ware fees der feeste!

Die beste beskikbare dansorkeste het by die danse opgetree. Die polisie dansorkes, die vlootorkes, Saffy’s van Bloemfontein en baie ander.. Maar moenie ons eie musiekmakers misken nie. Bettie Pieterse – klavier, Ikey Korp – viool, ‘n drommer en saksefoon speller - almal van Smithfield - het die orkes gevorm en van der beste!

Ongelukkig is meeste van die karakters en meelopers nie meer met ons nie, maar al die gebeure en mense van vervloeë dae leef nog in ons gedagtes en harte voort.

Groetnis
Hennie

SmiffieNews is Smithfield's very own community magazine.

Contact SmiffieNews: Box 88 Smithfield 9966 Tel: 051 683 0133
Articles can be submitted to the editor via our Contact Us page.

Follow SmiffieNews on Facebook

You are here