Uit vergange se dae

deur Hennie Prinsloo ~

As ‘n mens terugdink aan jou kind- en jeug-jare in Smithfield, gaan dit natuurlik uiteraard gepaard met nostalgiese en romantiese herinneringe. Gedagtes wat ook gekleur word met jeugdige verwagtinge en drome.

Dan sien ‘n mens vol watervore – wat water aan elke erf in Smithfield-dorp voorsien en inwoners ieder en elk hul tuine kon verfraai en ook groente kweek. Daar was ook diegene wat groente en vrugte gekweek het vir die mark.

Elke Vrydagmiddag was Markdag en is die heerlikste groente en vrugte-in-seisoen verkoop.

‘n Ou inwoner van Smithfield, Oom Willie van Rensburg, was die stadsklerk, asook die afslaer by die Mark.

Die Mark was op die Markplein – oorkant die Hotel, en is vandag haas onherkenbaar.

Die Markplein was ook die bymekaarkomplek van die Boere wat met kar en perde dorp-toe gekom het, en die perde kon daar uitspan en gevoer word terwyl die Boere hulle inkopies doen.

Verder af in dieselfde straat op pad na die begraafplaas, op die linkerkant, was die Tentoonstellingsterrein, asook die voetbalveld.

Van al die geboue van die skougronde, pawiljoen, sale, stalle, skaapkrale ens. het net die geraamte van die eertydse Kafeteria oorgebly!

Die jaarlikse Landbouskou was altyd diè hoogtepunt van die jaar waar Boer en dorpenaar saam gekuier en mekaar beter leer ken het.

Groot vertonings en uitstallings van skape, beeste, en perde is aangebied. Die room van die Suid-Vrystaat het teen mekaar meegeding.

Die skoudans was absoluut diè dans van die jaar. Hierdie sosiale geleentheid het mense van oral getrek! ‘n Volgende keer vertel ek meer van die skoue asook van die voetbalklub.

Aan die oorkant van die spruit was die vendusiekrale waar daar maandeliks groot veeveilings gehou is. Kopers het van heinde en ver gekom aangesien die gehalte en kondisie van die diere uitstaande was.

Ou “Rosy”, een van die gereelde kopers kom toe eendag daar aan met ‘n perd wat hy wil verkoop. Almal het geweet dat die spesifieke perd geweldig stamp. Terwyl ou “Rosy” besig was om die perd se goeie eienskappe vir almal met heelwat aandikking te vertel, het ‘n vreemde hom kom vra of hy die perd mag ry. “Ja, sure” sê ou “Rosy”. Die man klim toe op en almal neem toe waar hoe die man op en af wip soos hy stamp! Ou “Rosy” se kommentaar was ewe bedees “Hy’s too lieg, hy wiep!”

Dit laat my dink aan die ou wat ook ‘n perd wou verkoop, en toe daar ‘n koper opdaag, hy aan hom al sy voortreflikhede betuig, en toe afgesluit met die woorde: “But he does not look so good” – Na ‘n paar dae het die koper die perd teruggebring en sê aan die verkoper: “Maar die perd is dan blind!”

“Ja Miester. I mos told you he does not look so good!”

Tot ‘n volgende keer…

Hennie

You are here